Op Saterdag 1 November durf die Springbokke die Japannese bloeisels aan in die Wembley-stadion in Londen. Ons verneem van ‘n eg-Suid-Afrikaanse pub (kroeg klink hier nie reg nie) naby die Pantheon in Parys. ‘n Treinrit en stewige stappie (met behulp van Osmand) bring ons tot ‘n toe deur in ‘n nou keisteenstraatjie. Die eienaar open eers oor ‘n halfuur – darem betyds vir die wedstryd! Hy belowe boereworsrolletjies en bier!
La Pomme D'Eve – South African Pub – Bar Paris
75005 - Latin quarter
Op die sypaadjie ontmoet ons ‘n jong
Suid-Afrikaanse paartjie wat hul bestaan in Parys maak, en dikwels die
Suid-Afrikaanse sport in L Pomme D’ eve kom volg. Hulle voer ‘n suksesvolle
professionele bestaan in dié stad, maar beoog om na Suid-Afrika terug te keer
om hul kinders in hul geboorteland groot te maak. Voorwaar jongmense om op trots
Suid-Afrikaans te wees!
Die klub
het ‘n aangename ondergrondse atmosfeer en verskaf duidelik ook ander vorme van vermaak. Ons is vroeg en kry voorste sitplekke voor die skerm wat deur ‘n dataprojektor bedien word. Nog twee
Suid-Afrikaanse (maar Engelssprekende) jongmense sluit by eersgenoemde twee
aan.
Die plek se atmosfeer groei soos wat nog rugbyliefhebbers (soos wat ek kan aflui, grootliks Springbokondersteuners) aansluit. Langs my neem ‘n Suid-Afrikaner plaas wat alreeds meer as 20 jaar in Parys woon en werk. Hy sal waarskynlik nie terugkeer na Suid-Afrika nie.
Die
Afrikaanssprekende kelnerin kom neem bestellings vir drankies. Ek vind dit
ironies dat bier en duur hierso rym – dit hoort mos nie so nie!
Die wedstryd is ‘n reuse sukses: beide omrede die uitslag en die heerlike knus atmosfeer. Dit herinner aan ‘n sportwedstryd op televisie in ‘n groot Suid-Afrikaanse sitkamer. Net genoeg uitbundigheid om nie steurend te wees nie. Uiteraard word daar luidkeels gejuig oor al die positiewe spelaspekte deur die Springbokke – en, natuurlik, die uitstekende uitslag!
No comments:
Post a Comment