Kerke en katedrale
Uit Spectacles et Sorties à Paris • L'Officiel des spectacles kies ons vir Saterdag en Sondag twee musiekuitvoerings.
Saterdag
Ons woon Eglise réformee
de Port-Royal se geleentheid by. Dit is ‘n
kleiner en effe meer moderne kerk as van die ander wat ons al besigtig het. Die
akoestiek is egter uitmuntend en die uitvoering deur ‘n entoesiastiese en
bedrewe orkes word puik gelewer.
Die program word lewendig uitgevoer en die musici wissel van een instrument na ‘n ander. Ook die solo-sangitems is besonder treffend – al verstaan ons geen enkele word nie!
Die groep reageer gunstig op ‘n uitbundige geroep na encore – en lewer nog twee musieknommers ten slotte.
Sondag
Sondagmiddag vertrek ons vroeg om betyds te wees vir die
uitvoering van Vivaldi se Vier Seisoene in Eglise Notre Dame du Liban. Ook maar goed, want die groot kerk is stampvol.
Orcestre Symphonique et Lyrique de Paris lewer ‘n besondere
produk. Dit blyk dat ‘n paar Colombiaanse musici aangesluit het by dié Paryse
groep. Vivaldi se Vier Seisoene word tans op verskeie plekke in die stad
aangebied, maar hierdie een was ‘n gratis vertoning. ‘n Toegif, gesien die
Rand-Euro wisselkoers!
Weer eens word ons nie teleurgestel nie, want die uitvoering word met passie gedoen – en met heelwat humor wat die konsertmeester-violis na vore bring. Alhoewel die kerkbankies hard is, lyk dit asof almal die uitvoering geniet. Aan die einde word daar spontaan en hartlik hande geklap. Van die dankbetuigings verstaan ons niks, maar knik meegevoer saam.
No comments:
Post a Comment