Sunday, October 19, 2025

Dorpies

 Die beplanning was om drie interessante dorpies/gemeenskappe met die trein (Navigopas!) te besoek. Ons ontspoor egter nadat ons op die roetekaart in die trein sien dat dieselfde lyn ons na Fontainebleau kan neem. Daarvandaan sou ons die dorpies kon deurwerk met die terugrit.

Tydens die staptog vanaf die stasie Avon Fontainebleau na die Fontainebleau-kasteel ontmoet ons egter 'n Franse dame van Parys (oorspronklik vanaf Brittany) wat tydelik in Fontainebleau vertoef.

Château de Fontainebleau Official Site Home Page

Sy raai ons af om Chartrettes, Bois-le-Roi en Melun te besoek en beveel aan dat ons langer in Fontainebleau deurbring. 

Sy vergesel ons deur die kasteeltuin na die kasteel en deel haar indrukke van die Franse leefwyse, van politiek tot haar beroepslewe as bibliotekaresse.

Die tuin is herfs-prentjiemooi, en die dag perfek vir 'n landelike wandeling.

 




Die kasteel lewer visuele hoogtepunte op wat moeilik beskryf kan word, en wat nie regtig op die selfoonkamera vasgelê kan word nie.
Die slentergang deur die kasteel duur sowat twee-en 'n halfuur - nogal uitmergelend as 'n mens jou in dié kulturele omgewing inleef.


Die skaal warop geleef, onthaal, geveg en politiese bedrywighede
 weergegee word, word in volkleur in die kolossale amfiteater-sale opgetower.

  

Ons sluit die besoek aan die kasteel af met 'n tuisgemaakte wegneem-toebroodjie en 'n bier in die park.

Dié dag se stap lewer 'n goeie 12km op, goeie energieverbruik totdat die volgende baguette wag!


No comments:

Post a Comment