Sunday, October 26, 2025

Leefwyse

Daaglikse ywer

Heel dikwels word deur vriende en belangstellendes gevra wat ons verblyf in Parys behels. Dit is nou behalwe die naspeur van kulturele en kreatiewe gebeure asook die bywoon en besoeke aan kunsmuseums en gallerye. Ek doen so kortliks verslag van ons leefwyse en daaglikse handeling.


Die verblyf is in die Cité internationale des arts in 18 rue de l' Hotel de Ville in die Maraisdistrik (4e arrondissement). Dit is reg langs die Seinerivier en baie sentraal – sowat 800m van die Notre Dame de Paris. Die Studio-woonstel waarin ons tuisgaan, behoort aan China en is deur die Cité administrasie aan ons toegeken. Dit beslaan so 40m2 en bestaan uit ‘n ruim ingangsportaal wat ‘n stoor/klerekas, ‘n wasgoeddroograk en die fiets huisves. Die leef-/werk-/slaapvertrek het 2 werkstafels, 2 gemakstoele en ‘n gefabriseerde (uit twee enkelbeddens) dubbelbed. Die vertrek kyk uit op ‘n kleinerige vierkant.

Die kombuis/eetvertrek het ‘n tafel, 2 stoele en die nodigste kombuisgereedskap. ‘n Induksie glasbladstoof en ‘n ketel sorg vir die gepaste opkookgeleentheid.Die badkamer beskik ook oor die nodigste en bygesê toegerus met ‘n heerlike stort met warm water.

Soos afgelei kan word, is die eenheid redelik Spartaans toegerus, maar vir ervare kampeerders is dit ‘n baie luukse woonplek!

Die daaglikse roetine word afgewissel deur wat in die omgewing geadverteer word (l’officiel spectacles bied ‘n weeklikse program wat verskeie aktiwiteite in Parys bekendstel). Verder stel Karien ‘n kompakte maandprogram op wat afwisselende bedrywighede insluit. Natuurlik speel die weer en onvoorsiene gebeure ‘n rol, wat veroorsaak dat die program aangepas en ook uitgebrei word. Die program maak in breë trekke voorsiening vir:

- Daguitstappies na aanliggende dorpies/voorstede van Parys.   Heelwat interessante dorpies word geadverteer vir hul natuurskoon, middeleeuse herkoms of kulturele en kunstenaarsagtergrond. 

- Die verkenning van die kerngedeelte van Parys se bekende en minder bekende areas. Dit sluit nou die museums, galerye, katedrale, markte, parke, kunswinkels ens. in. Ons maak ruim gebruik van die  Cité kaart, wat toegang verleen aan verskeie besienswaardighed en ook afslag bewillig by uitgesoekte handelaars.

Cité kaart en Navigo pas

    Impromptu rondreis in die stad met die Metro, Busdiens en Trems (daarvoor, asook vir besoeke aan naburige gemeenskappe word die uiters waardevolle Navigo-maandpas gebruik).


Fietsry en voetslaan is sinoniem aan  die leefwyse wat ons in Parys ervaar. Die daaglikse gemiddelde stapafstand gedurende die vorige besoeke was soat 8,5 km gemiddeld per dag oor ‘n tydperk van 2 maande. Hierdie tendens sal waarskynlik weer gehandhaaf word tydens die huidige besoek.



- Vir effe strawwer en meer gerigte oefening wyk ons uit na die 2 groot woude aan die buitewyke van Parys: Bois de Vincennes en Bois du Boulogne. Hierdie boom-bosryke areas beslaan etlike hektaar en ‘n mens kan veilig na hartelus die bospaadjies verken. Karien te voet en ek op ‘n fiets.

- Tuis het ek ‘n aantal gelamineerde kaartjies geskep met aan die een kant ‘n afdruk van president Nelson Mandela se gesig en aan die ander kant ‘n afdruk van die Suid-Afrikaanse vlag. Hierdie aandenkings word dan uitgedeel aan weldoeners (en veral rigtingaanduiders!). Sonder uitsondering helder die ontvanger se gesig op en dikwels lei dit tot ‘n positiewe gesprek oor ons tuisland.

Wat eet en drink ons? Van Suid-Afrika het ons ‘n plunjer vir koffie saamgebring (met ‘n houer koffie, om mee te begin) asook van vriendin Marina se uitsonderlike beskuit (hier te lande is beskuit nou nie ‘n algemene item nie!). Verder het Karien ‘n apparaat ingepak om groente en dies meer te verpulp tot sop – heerlik in die kouer weer.

Ons bak pannekoek in die eendeweer en ‘n gebruiklike pot (min vleis en baie pasta/groente) word aanmekaargeslaan.

Natuurlik is die oorbekende baguette daaglikse stapelvoedsel, met ‘n heerlike soutbotter: beurre sel-de-mer.

Die gewone bestanddele vir peusel en etes is natuurlik beskikbaar: joghurt, vrugte, muesli, kaas, koue vleis, eiers, blikkieskos, maalvleis, speserye en dies meer.

Sekerlik moet ons die knie buig na die onderste rakke om ‘n bekostigbare wyn op te spoor. Vanuit ons vorige ondervinding het ons nou-al gestandaardiseer op Roche Mazet se Cabernet Sauvignon. Ook deesdae in 3l-houers beskikbaar – en ‘n gangbare ekonomiese opsie vir ons.

Nou ja, dis opdien en -skeptyd; ek verlaat die stoel om aandag aan bostaande te gee.  

  

                                                                             

    




No comments:

Post a Comment