Ek reken myself nie juis as sentimenteel nie, maar
soms kom plak nostalgie soos ‘n winkeletiket aan my. Daardie tipe wat maklik
aftrek, maar ‘n gompatroon los wat moelik afvryf. Dit is Parys vir my. Die stad
wat met sy klank en kleur en tekstuur in en aan my kom kleef.
|
|
||
|
Met die vorige besoek in 2023 was Smee reeds op die rakke en sedertdien het Strik verskyn. Parys word nie dikwels in die bundel gehuldig nie, maar is soos ‘n goeie opkikker dikwels stuwend teenwoordig.
Jou groen lyf glinster in die reën,
lewe slegs wanneer druppels
oor jou klam gelaat glimlag –
stemmig soos die haweloses
op die koue terras. Jaarliks
wag jy op die warm dae
om jou skouers te poleer
met die goue streling van somer.
-
Gerhard
Barkhuizen © 2025
| Blare & karton © 2023 |
Parys
1
Winterblare in klam strate
afgebreek in die reën
soos die los buiteblare
van middelklas-sigare.
2
Somerreën aan die Seine is enig
in sy soort. Geverfde vensters:
'n plataneboord. Glinsterende
lamppale, natgrys & lenig.
- Gerhard Barkhuizen © 2025
En dan ook met heimwee die gedig aan Ettienne wat ek in 2019 in Parys ontmoet het en intussen oorlede is:
| Vriend/Friend/Ami © 2023 |
Toevallige reisgenoot
Vir Ettienne
Ettienne raak in die vreemde
my toevallige reisgenoot,
’n terminale eenseisoenvriend.
Die aanklank is spontaan;
ek verluister my aan sy kennis
oor die kunste en die klawers,
sypelend uit die groot stil man
wat sy lyding goed verberg
en sonder ’n kalender beplan.
’n WhatsApp-boodskap trek opeens
die streep deur ons verbintenis.
Ek verlustig my in sy erflating:
versamelings Cohen en klassiek.
Besef opnuut die rare ironie:
stilte dra sy eiesoortige liriek,
grafsand plof, maar doof nie
die resonansie van musiek
- Gerhard Barkhuizen © 2024
No comments:
Post a Comment